In die geurige strate van Grasse, Frankryk – die wêreld se parfuumhoofstad – is Jean-Paul Dubois ‘n suksesvolle maar losbandige vrygesel wat glo hy het geen vrou nodig om gelukkig te wees nie. Maar sy lewe neem ‘n dramatiese wending wanneer ‘n impulsiewe romanse met ‘n beeldskone onbekende hom in ‘n mediaskandaal dompel. Die vrou? Die getroude skoondogter van ‘n invloedryke kliënt. Skielik wankel sy familie se jarelange besigheid, sy reputasie lê aan skerwe, en hy staar die gevolge van sy dade in die oë.
Verplig om sy lewe te heroorweeg, begin Jean-Paul werk op die familieplaas – tussen die rose en jasmyn wat eens net sy status simboliseer het. Hier, tussen eenvoudige mense en eerlike arbeid, word hy gekonfronteer met sy eie leegheid. Maar kan ‘n man wat aan plesier verslaaf is, ware betekenis vind? En wat gebeur wanneer hy ‘n verbintenis aangaan wat nie net sy toekoms nie, maar ook sy siel kan verander?
Bruid vir ’n Vrygesel is ’n roerende storie oor vergifnis, transformasie en die liefde wat alles nuut maak. ’n Romantiese verhaal wat nie net die hart nie, maar ook die gees aanspreek.

fitchetnoleen –
N Skitterende verhaal van n afgedwaalde wat sy pad na vergifnis en verlossing vind.
Dit is n moeilike pad vol struikelblokke maar met toegewyde geloof is alles moontlik.
Die pragtige tonele en landskap word so duidelik geskilder.
N Heerlik boek wat die leser enduit sal boei.
mariet2311 –
Bruid vir ‘n Vrygesel is ‘n heerlike ontspanningsverhaal wat jou wegvoer na die land van Jasmyn en Rose! Daar is beslis baie navorsing gedoen oor die maak van parfuum en alles wat daarmee saamgaan. Dit dra by dat die inhoud baie verrykend en leersaam is vir die leser. Jean-Paul Dubois, ons hoofkarater, leer op die harde manier dat ‘n losbandige lewe nie die antwoord is vir ‘n suksesvolle lewe nie. Saam met hom besef ons die kosbaarheid van ‘n ondersteuningsnetwerk van goeie vriende en familie. ‘n Verhaal wat jou boei tot die einde!