In ’n tyd waar oorlog die land verskeur en vroue en kinders dikwels die hoogste prys betaal, bly geloof, liefde en dapperheid die enigste ankers.
Christie, dogter van ’n Boer op kommando, sien haar wêreld verbrokkel toe Britse soldate hul plaas betree – en iets in haar vir altyd verander. ’n Enkeling tussen die vyand, ’n jong Ierse soldaat met deernis in sy oë, waag dit om op te staan teen die bevel om die plaas en alles daarop, te verwoes. In ’n oomblik van genade word ’n plaas gespaar – maar teen watter prys?
Hierdie verhaal bring rou realiteit en stille hoop saam onder die takke van ’n ou peperboom. ’n Verhaal van innerlike stryd, moed in die aangesig van vernedering, en ’n onmoontlike verbintenis tussen twee mense van verskillende wêrelde.
As peperbome kon fluister is ’n roerende roman wat die stemme van vroue, kinders en onbekende helde van die Anglo-Boereoorlog laat leef – met fluisteringe wat selfs vandag nog weerklank vind.

marsdrey –
Ek het pas klaar hierdie pragtige storie van Ronel le Roux gelees. Eerstens hou ek baie van verhale wat op ware gebeure baseer is, dus het ek dit baie geniet. Omdat dit op ‘n ware verhaal baseer is, was die passie, die hartseer, die verwoesting, die onreg hierin net nog meer werklik.
Ronel, ek is ingetrek deur jou manier van skryf … so werklik, dat ek die perdepote kon hoor, die rook van verwoesting kon ruik, die seer van die onskuldiges kon voel.
Jou karakters se persoonlikhede het jy so in die fynste besonderhede beskryf dat dit my gevoel het of ek hulle persoonlik ken en presies weet hoe hulle lyk.
Hierdie is ‘n boek wat jy moet lees! ‘n Storie wat moet voortleef om ons te laat besef hoe kosbaar die lewe is, hoe gelukkig ons is om sorgvry te kan leef en liefhê.
Uitstekende werk Ronel le Roux.