In hierdie boek vertel Ina Cantoni van Fynbosville, ‘n klein dorpie, oënskynlik onbenullig, maar met onderstrominge wat mense lewens kan maak of breek.
Jennifer Krynauw, wat as gevolg van haar eie brandwonde ‘n hospitaal bou om ander mense te help, se verlede het ‘n groter letsel op haar hart gelos as in haar gesig.
Wat het in haar matriek jaar alles verkeerd geloop wat sy na vyf en twintig jaar in die oë moet kyk? Hoe pas die legkaart inmekaar en hoe gaan dit almal se toekoms beïnvloed?
Sal dit help om die plate fynbos te vra vir die waarheid?
Die verlede haal almal tog een of ander tyd in..

marsdrey –
Ina Cantoni doen dit weer!
ʼn Boek vol intriges, gegeur met uiteenlopende en interessante karaktes en ʼn storielyn wat jy nie vooruit kan voorspel nie.
Haar beskrywing van die omgewing waarin hierdie uiters interessante en spanningsvolle storie afspeel, is uitmuntend. Ek kon myself in die wingerde en tussen die fynbos sien loop saam met Schalk Krynauw.
Die hoofkarakter, Dr Jenifer Krynauw, se vurige, komplekse en geheimsinnige geaardheid is goed uitgebeelde en deurentyd het dit my op my hoede gehou. Dit het die hele tyd my nuuskierigheid geprikkel oor wat haar volgende gaan omkrap of wanneer sy die sluier gaan lig oor wat die oorsaak van haar hardheid is. Dit hou jou in afwagting oor die belofte van al die intriges wat iewers op die lappe moet kom.
Die verrassende sameloop van omstandighede wat aan die einde die spanning verbreek is meesterlik opgebou tot by breekpunt en elke keer is daar net genoeg inligting gegee om jou steeds aan die wonder te hou.
Ek het die boek baie geniet, en sal dit definitief vir enigiemand voorstel om te lees. Dit is ʼn boek wat vroue sowel as mans sal geniet.
Baie geluk Ina Cantoni met nog ʼn uitmuntende stuk skryfwerk.
Marsofine Krynauw